Ons Eredienste

Parkkruin se eredienste word gelei deur die Heilige Gees

Ons is ’n familiekerk en almal is welkom. Daar word elke Sondagoggend, parallel met die hoofdiens, ’n spesiale erediens vir die kinders gehou.
Dit vind plaas in die kerksaal en word gelei deur ’n dominee.

Ons glo in belewenis-gedrewe eredienste, waar mense uitstap met ’n geloofservaring eerder as ’n statiese boodskap. ‘n Erediens moet ‘n ontmoeting met God wees,
asook ‘n ontmoeting met medegelowiges. Ons fokus op kinders en die gesin, en ons probeer ‘n gasvrye, vriendelike
omgewing skep vir gemeentelede en besoekers. Musiek speel ook ‘n belangrike rol in ons bediening.

Sakramente

Die Doop

Die sakrament van die Doop word op feestelike wyse in Parkkruin gevier.  Dat die Here God Homself aan kindertjies verbind is telkens ‘n hoogtepunt vir die gemeente.  Ons beywer ons daarvoor dat die doop vir die ouers, die kindertjies en vir die hele gemeente ‘n onvergeetklike gebeurtenis is. Ons stel die ouers voor aan die gemeente op die tradisionele manier, maar volg ook drie belangrike meegaande simboliese gebruike wat eie is aan Parkkruin.

Die kind se voetafdruk in klei
Kinderstjies se voetjies word voor die erediens in klei afgedruk.  Hierdie afdrukke word in die ingangsportaal van die kerk aangebring met die kind se naam en doopdatum daarby.  Op hierdie wyse word elke dopeling deel van die storie – en genadige geskiedenis van die gemeente.

Die Alfa-oomblik
Die Alfa-oomblik is daardie geleentheid wanneer ons die kindjie as dooplidmaat in die kerk verwelkom.  Hierdie verwelkoming word met musiek gevier.  Ons maak van ‘n hele verskeidenheid instrumente gebruik om die Alfa oomblik baie spesiaal te maak.

Die doopkers
Ons oorhandig ‘n doopkers na afloop van die doop aan die ouerpaar.  Die ouers steek die kers in die erediens aan.  Die doopkers sal daarna vir 16 ure brand. Die eerste uur is in die kerk, tydens die doop. Daarna moet die ouer dit elke jaar vir ’n uur aansteek op die herdenking van die kind se doop. Ná 16 jaar is die kers uitgebrand, en is die kind op ’n plek in sy geloofsreis waar hy of sy belydenis van geloof kan aflê.

Nagmaal

Tydens nagmaalgeleenthede word nagmaal tegelyk in die kerk en in die saal gevier. Gesinsnagmaal is eie aan Parkkruin en word om die beurt in die kerk en in die saal gehou.  Gesinne gebruik saam nagmaal. Kinders kry die geleentheid om die brood te breek en uit te deel aan hul boeties en sussies en ouers deel.  Na afloop van die nagmaal kry gesinne die geleentheid om saam te bid.

Op Goeie Vrydag het ons ‘n loop-nagmaal waartydens die gemeentelede vorentoe kom en om die elemente van brood en wyn persoonlik te ontvang.

Dankfees

1000 Dankies!

NG Parkkruin se leuse is “Geseën om te seën”. 
As deel van ons leuse, pak Parkkruin dan ook jaarliks die Dankfees projek aan. Die Dankfees is ‘n unieke benadering tot finansiële steun vir behoeftige projekte in ons omgewing. Drie kommissies in ons gemeente (die Omgee-, Uitreik- en Versorgingskommissie) identifiseer spesifieke behoeftige projekte wat ons finansieel wil ondersteun op grond van ‘n voorgestelde begroting.Hierdie steun geskied in geloof aangesien die fondse deurlopend deur die jaar uitgegee word, maar eers gedurende ons Dankfeesperiode van Oktober tot Februarie ingesamel word.

Die gelde ontvang vir die Dankfees word uitgegee aan hierdie behoeftige projekte en ander soortgelyke sake, indien meer as die begrote fondse ingesamel word. 
Ons sien saam met u uit na die 2015 Dankfees waar ons kan gee aan die wat minder as ons het – Parkkruin word immers self Geseën om te seën!